Bybelboekboks-projek- om liefde en hoop te versprei

Bybel-Media loods ’n nuwe projek wat in hierdie uitdagende tyd uitrek na geliefdes en vriende in aftreeoorde, versorgingsoorde en tehuise vir bejaardes in die hele Suid-Afrika.

Elke tehuis of aftreeoord sal ’n boks vol gratis Christelike boeke, Bybelstudies en Bybels ontvang om uit te deel, self te lees en saam te geniet.

Word deel van ons projek!

Skenk slegs die koerierkoste van R99 en Bybel-Media sal sorg dat die boks afgelewer word by ’n ouetehuis, aftreeoord of versorgingsoord van jou keuse.

Help Bybel-Media om ons impak te verhoog en mense in hulle geloof te bemoedig.

Besoek www.bybelmedia.co.za om jou R99 vir die korierkoste te skenk of maak ’n direkte inbetaling of EFT na Bybel-Media se bankrekening.

Bybel-Media Handel
Absa, Wellington
Tjekrekening: 405 433 6340
Takkode: 632 005
Verwysing: e-pos en naam

Indien jy wil help, stuur vandag nog jou inligting aan hannelie.matthee@bmedia.co.za en ons kontak jou.

Nadenke: Wat het ons die afgelope jaar bereik?

Vir Bybel-Media is dit belangrik om gereeld te besin oor die organisasie se vordering, veranderinge en impak. Die Bybel-Media-span pak altyd talle uiteenlopende projekte aan en bring verbeteringe in hulle toekomsplanne aan.

Die span het hulle onlangs afgevra: “Wat het ons die afgelope jaar bereik?”

Om hierdie vraag te beantwoord het Hannelie Matthee, Bybel-Media se finansiële bestuurder en donateur-skakel, die videokamera aangedurf om aan die publiek terugvoering te gee.

In die video praat sy oor 26 maniere waarop Bybel-Media gemeentes en gemeenskappe dien. Die uiteenlopende afdelings wat gedek word strek vanaf publikasies, aanlyn bedrywighede en vertalings, tot kerkmusiek, ’n Afrika-voetspoor, tronkbediening en vennootskappe.

KLIEK HIER en kyk gerus die video “Wat het ons die afgelope jaar bereik?” om te sien tot waar Bybel-Media se impak strek.

Bybel-Media ondersteun Du Toitskloof-kwarantynfasiliteit

Lize King, ’n ondersteuner van Bybel-Media, het vroeër in die grendeltydperk die Du Toitskloof-wynplaas en -kwarantynfasiliteit besoek om toiletware aan hulle te skenk. Sy het ’n behoefte by hulle geïdentifiseer en Bybel-Media gevra om te help.

Met die koms van die inperkingsmaatreëls en die destydse toename in COVID-19-gevalle was daar ’n groot behoefte aan huisvesting vir pasiënte wat nie na hulle gemeenskappe kon terugkeer om te selfisoleer nie.

Die Du Toitskloof-wynplaas, net duskant Rawsonville, het hierdie behoefte raakgesien en hulle bestaande lodge tydelik in ’n kwarantynfasiliteit vir pasiënte omskep sodat hulle hulle so gemaklik moontlik kon isoleer. Die pasiënte is meestal vroue, ma’s en kinders. Hulle kom direk van die mediese fasiliteite na die lodge as hulle positief vir COVID-19 getoets het. Hierdie mense is weg uit hulle bekende omgewings, gemeenskappe en gesinne.

Lize vertel dat die pasiënte baie bang en onseker is wanneer hulle die nuus ontvang dat hulle positief getoets het. Die span wat by die fasiliteit werk, bestaan uit 15 ongelooflike mense wat daagliks kosmaak, skoonmaak, donasies uitdeel en mediese en emosionele ondersteuning bied.

Lize het gewonder wat sy vir die geïsoleerde pasiënte kan doen buiten die skenking van toiletware. Sy het besef dat hierdie mense dringend bemoediging nodig het. Sy het Bybel-Media geskakel om te hoor of ons kan help met opbouende leesstof en ons was gretig om hierdie fasiliteit by te staan. Die fasiliteit het ’n boks vol geestelike leesstof ontvang wat daarop gemik is om pasiënte geestelik te bemoedig, te ondersteun en hoop te gee in ’n tyd waarin onsekerheid groot is.

Jaarverslag 2019/2020

Met die wêreld wat so te sê oornag weens COVID-19 verander het, het Bybel-Media uitdagings in geleenthede omskep en ’n reeks veranderinge aangebring om gemeenskappe en gemeentes nou beter as ooit by te staan en te ondersteun. Bybel-Media is tans besig met ’n opwindende digitale transformasieproses, wat beteken dat meer mense wêreldwyd met die Goeie Nuus bereik kan word.

Die vordering, veranderinge, verbeteringe en mylpale wat Bybel-Media die afgelope jaar bereik het, is te danke aan lojale donateurs wat projekte ondersteun het om mense se lewe te verbeter en te verryk.

Die 2019/2020-jaarverslag belig 26 maniere waarop Bybel-Media ’n impak op mense se lewe maak en vertel meer oor wat alles agter die skerms plaasvind met elke opwindende projek.

KLIK HIER om die jaarverslag af te laai.

Statistiek: 20 April 2020

KIESKERK.COM spog tans met:

– 25 043 mense wat reeds die platform gebruik het

– 157 253 bladlesers sedert die webblad gebou is

– 124 gemeentes altesaam